Go and Proclaim Ministries South Africa
Home | About us | All Events | Prayer Initiatives | Community Work | Sitemap | Sitemap: Afrikaans | Contact us
Oproep tot gebed vir die verbreking van die droogte en vir mense om terug te draai na God toe​. 28 Oktober 2017
(Argief)


Uitgereik deur Jerigo Mure Gebedsnetwerk

Oproep tot gebed vir die verbreking van die droogte en vir mense om terug te draai na God toe.

Ons land beleef tans in 'n uitgerekte en vernietigende droogte in baie gebiede in die die land - veral die Oos-Kaap, Karoo, Noord-Kaap, asook die Suid- en Wes-Kaap. Daar is ook ander dele waar reën dringend nodig is. 

Min mense is bewus van die omvang van die probleem. In sommige streke is hierdie droogte reeds bykans 5 jaar aan die gang. Boere sien daagliks hoe diere vrek, landerye verdor en oeste tot niet gaan. Dit is traumaties om in dele te kom waar daar droogte is en die werklikheid van hierdie situasie te sien.

Laat ons as kerk ons voor God verootmoedig en by God smeek vir uitkoms.

Ons stel die volgende voor:

1.  Dat gemeentes en gebedsgroepe landswyd op Sondag 15, 22 en 29 Oktober 2017 in gemeentes sal bid vir reën en die verbreking van die droogte.

2. Dat die week van 8-15 Oktober 2017 gebruik word om 'n 24/7 gebedswag op te rig waar gemeentes, gebedsgroepe, gebedswagte ens., asook individue dag en nag voor die troon van God sal kom om vir hierdie saak te bid.

In Psalm 46:2 lees ons: "Hy was nog altyd bereid om te help in nood." In die 1953 Afrikaanse Bybel word dit so vertaal: "As hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef."

GEBEDSRIGLYNE

Wanneer daar nood en rampe is, soek God altyd iemand om in die bres te staan. Hy soek na manne en vroue wat voor Hom sal kom staan en vir die saak/sake sal bid. Bid dat Christene voor God sal kom staan en as intersessors/voorbidders sal optree oor hierdie saak. Esegiël 22:30 - Ek het iemand tussen hulle gesoek wat 'n muur sou bou en vir die stad in die bres sou tree dat dit nie vernietig word.
  1. Laat elkeen sy eie hart ondersoek en vir die Here vra om ons te vergewe vir enige sonde wat Hy vir ons uitwys. Jesaja 59:1-2 - Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie. Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie.
     
  2. Ons land het van God af wegbeweeg en ons soek nie die Koninkryk van God nie. Ons soek na ons eie belange en eie voordeel. Wanneer ons rondom ons kyk, het ons 'n korrupte land geword wat in opstand is teen God, goddeloos en godloos leweDie Skrif sê baie duidelik: Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. (Matteus 6:33). Die volgende Skrifgedeelte is relevant vir ons situasie: My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water hou nie. (Jeremia 2:13).
     
  3. Bid oor enige onreg wat plaasgevind het en steeds plaasvind tussen werkgewers en werknemers. Daar is skuld aan beide kante. Bid dat die twee groepe mekaar nie sal veroordeel nie, maar hulle saam sal verootmoedig en saam tot God sal bid vir Sy hulp. Hierdie wanverhoudings is nie net op plase nie, maar in alle sektore van die samelewing.
     
  4. Bid vir boere wat moed verloor het of wat bitter en opstandig is. Bid dat ons in hierdie tyd nie opstandig sal wees nie.
     
  5. God gebruik dikwels natuurrampe wat plaasvind om ons aandag te kry. Bid dat God deur sy Gees vir ons sal wys wat dit is wat Hy wil hê ons moet sien en hoor.
  6. Bid dat God vir ons dankbare harte sal gee. Ten spyte van die droogte is daar steeds baie waarvoor ons God kan en moet dank. Laat ons Hom dank vir plekke waar daar reeds reën geval het. 1 Tessalonisense 5:18 - Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.
     
  7. Laat ons eendragtig tot God uitroep om genadig te wees en reën te gee. Laat ons met gebed en smeking na die troon van God toe kom sodat ons op die regte tyd gehelp kan word. Hebreërs 4:16 - Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.
     
  8. Bid dat daar nie storms, hael en vernietigende winde sal wees wanneer die reën kom nie.
     
  9. Bid dat die regering in die Kaapse Skiereiland sal begin om daadwerklike stappe te neem om te werk aan sinvolle oplossings vir watervoorsiening en die gebruik van beskikbare water.
     
  10. Psalm 68:9-10 besing die effek van 'n manifestasie van God se Teenwoordigheid op die aarde; hoedat Sy Teenwoordigheid 'n oorvloedige reën tot gevolg het, en die dorre land weer lewe kry. Laat ons met ons woorde, dade, gedagtes en leefstyle so lewe dat ons God se Teenwoordigheid in ons ronddra. Kom ons vra Hom om ons land op hierdie manier te besoek. 
     
  11. 1 Konings 18. In die tyd van Elia was daar ‘n landswye droogte. God het dit toegelaat as gevolg van afgodery. Hierdie hoofstuk beskryf die dramatiese konfrontasie tussen Elia en die Baal profete. Die uiteinde was 'n nasionale erkenning dat die Here God is. Laat ons bid totdat daar n landswye bekering v mense, na die God van die Bybel is. Laat elkeen van ons, ons eie harte ondersoek en van alle "Baals" ontslae raak. Laat ons soos Elia uitroep: "Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.” 1Kon.18:37.
     
  12. Lees Psalm 37 biddend deur.
 Oproep tot gebed vir die verbreking van die droogte (pdf)