Go and Proclaim Ministries South Africa
Home | About us | All Events | Prayer Initiatives | Community Work | Sitemap | Sitemap: Afrikaans | Contact us
 

GAP NUUS September 2020

Vriende,
Ons groet julle in die wonderlike naam van Jesus Christus. Ons nooi julle uit om die nuusbrief saam met ons te lees. Hierdie is van die belangrikste nuus en vir nou moet ons volstaan met die digitale weergawe wat heelwat korter,  en gevolglik bietjie ingeprop is. 

Gesinsnuus
ie kinders is hier vir 'n paar dae! Dit is die eerste keer sedert die grendeltyd begin het dat ons hulle weer sien. Ons lyk nog goed volgens hulle! Eldi is genooi om aansoek te doen vir die spraakterapeut pos by Kimberley hospitaal in 2021 en ons hou vir haar duim vas. Sy kon vir haar eers 'n ouerige en nou 'n splinternuwe kla-werbord koop en borrel die liedjies nou omtrent uit. Sy is ook deel van die lofprysings groepe, lyk my, by meer as een kerk. Pieter hulle woeker daar langs die Oranjerivier en is Van Der Kloof Tegnologie weer op volle stoom. Huppelkind is aan die roer en weer stampvol alhoewel hulle nog die kinders in twee groepe gedeel hou. Sugnét se "Vroue van die Bybel" is klaar ge-illustreer en word dit 'n verjaarsdag kalender wat nogal 'n goeie kersgeskenk sal maak. Gaan kyk op Youtube by youtu.be/i4dWU0tsrMg waar die Fonteinvroue dit omskep het in 'n ander formaat en vir 'n ander doel.  Die kalender behoort gereed te wees vir die kersmark. Tussendeur die normale program vorder ons met die skoonmaak en regmaak van die infrastruktuur op Gumdale. Een van die boere, volgens ooreenkoms, help nou daarmee in ruil vir die gebruik van die natuurlike bos vir sy byeboerdery. Dit is meer 'n bloekombos as 'n natuurlike bos maar dit is blykbaar waar die bye hulle heuning kry. Die "Bush Chapel" het nog nie verrys uit die gras nie, maar ek vorder met die voorbereiding van die terrein. Ons sal daar kom!                

"The Art Forge".
Hierdie is 'n langtermyn familie projek wat gedurende die grendeltyd lewe gekry het. Van die werke was geruime tyd al in wording en in die grendeltyd afgestof en klaargemaak. Pieter hou die webwerf en die aanlynwinkel in stand en sy besigheid, Triunse, is verantwoordelik vir die finansiële admin. Dit is 'n nuutjie om 'n aanlyn winkel te bedryf. Om die werke te maak is een ding, om dit aanlyn te verkoop is heeltemal 'n ander. Die projek is 'n 'n baie goeie oefening in kreatiwiteit en hoop ons, soos die webwerf ontwikkel dit mense sal inspireer om hulle eie kreatiewe vaardighede saam met ons s'n te ontwikkel. Sugnet en Eldi verf, Pieter doen die grafiese kuns en ek  sweis.  Pieter en Eldi se werk kom later. Vir meeste kunsvorme is daar riglyne hoe om jou koste te bereken maar vir my goed is daar niks soortgelyk nie. So ons bepaal die pryse volgens die gesukkel om die rou materiaal (scrap) skoon te kry, bymekaar en aanmekaar te kry, afgewerk te kry en my klere skoon te kry. My swaer in Ierland is hulle village se "blacksmith". So help hy my via Zoom om die kuns van die "trade" aan te leer. Ons het hom aangemoedig om die lesse wat hy vir sy studente gee, te "live stream" of op te neem en net die vloekwoorde uit te haal. Sy aksent is bietjie van 'n uitdaging, en hy het 'n goeie Ierse sin vir humor maar soos hy sê "dont worry we will make a blacksmith out of you". Gaan kyk by www.theartforge.co.za. 

"Generosity Path".
Hierdie is een van daardie kursusse wat ek gedoen het, en ek nog nie seker is hoekom nie. Die was op uitnodiging van Faithnet SA met wie ons nou al 'n lang paadjie saamloop. Faithnet SA versprei onder andere die "Bible School on Wheels".  So via Zoom het ons die kursus voltooi en ook 'n kitskursus om as fasiliteerders die kursus te kan aanbied. Gewoonlik word die kursus in die vorm van 'n retraite oor 'n naweek aangebied maar soos met baie kursusse het hierdie nou ook deel van die gezoom geword. In kort, "generosity path helps people discover the great joy of giving". Dit is nie eintlik nuwe nuus nie, maar dit was goed om veral die getuienisse te hoor van gelowiges uit verskillende dele van die wêreld wat 'n "revoltion of giving" begin het deur net elke dag 'n skeppie rys, 'n hoender of 'n handvol eiers weg te gee.  Natuurlik is daar ook die getuienisse uit ander dele van die wêreld waar mense die vreugde ontdek het om ook uit hulle oorvloed te kon gee.  Almal het iets om te gee. Dit is inderdaad lekker om te ontvang, maar dit is net so lekker om te kan gee. Veral in hierdie tyd waar al hoe meer mense al hoe swaarder kry. Gaan kyk by www.generositypath.org. Baie van julle het in die grendeltyd gehelp om die hongeres wat oor ons pad kom te help voed, en doen dit steeds. Ons koop sop en meel grootmaat en herverpak dit. Dit is meer volhoubaar en gaan baie verder as blikkieskos wat in elk geval baie duur is.       

The Return".
Hierdie inisiatief is al wyd gesirkuleer. Jonathan Cahn, bekend vir "The Harbinger I&II" het ‘n op-roep gerig  vir ‘n Amerikaanse Nasionale Dag van Gebed op 26 September 2020. Hy het ‘n ernstige oproep tot gelowiges in die VSA gedoen om ‘n daadwerklike poging aan te wend om tyd te spandeer in gebed en terug te keer na God, teen die agtergrond van boosheid en groeiende opstand teen God en godsdiens in die VSA. Hy glo dat God ‘n “seisoen” gee waar daar geleentheid is vir mense om hulle tot Hom te bekeer. Herlewing is onmoontlik sonder bekering, volgens hom en baie ander kerkleiers, ook plaaslik. Kerkleiers en leiers van verskillende gebedsnetwerke in Suid-Afrika het aanklank gevind by hierdie oproep en gevolglik ‘n soortgelyke inisiatief in Suid-Afrika geloods. Besoek https://jwipn.com/the-return-south-africa-18-28-sept/. Kort en bondige riglyne en verskillende hulpbronne is daar beskikbaar. 'n Gebedsbyeenkoms deur leiers in Suid Afrika word lewendig gestroom via Youtube en Facebook op saterdag 26 September om 15h00 tot 16h30.  Dit is nie die beste tyd vir 'n gebedsbyeenkoms nie, maar in die lig van die agtergrond waarteen dit plaasvind wil ons almal uitnooi om 'n  opoffering te maak en dit by te woon.  

Baie dankie vir almal se hulp en ondersteuning die afgelope paar maande. Julle maak 'n verskil in ons le-wens sodat ons dit in ander se lewens kan doen. Wees ge-BLESS !!
Pierre en Sugnét 

        Gaan hou van ons Facebook bladsy vir gereelde nuus.



PDF Weergawe van hierdie nuusbrief