Go and Proclaim Ministries South Africa
Home | About us | Prayer Initiatives | Community Work | Sitemap | Sitemap: Afrikaans | Contact us

GAP Nuus 14 Februarie 2021

 

Laai die nuusbrief hier af

Persoonlike Nuus
Vriende, ons groet julle in die wonderlike naam van Jesus Christus.

Ons is baie dankbaar dat die pandemie regulasies weer gewysig is vroeg Februarie en dat dit ons nader bring aan normaliteit. Dit was egter nie ‘n dag of twee nie of die eerste dronk besoeker daag by die voordeur op. So, dit het ook sy vinnige nadele. Kerk kan ons weer kerk hou in klein groepies maar dis omtrent al. Mense moet nog steeds voor die landdros trou sonder ‘n gevolg en is daar nie ‘n onthaal nie net ‘n honeymoon en die enigste plek vir 'n geestelike byeenkoms behalwe 'n kerkgebou, is dalk op die strand. Met baie van die regulasies wat glad nie sin gemaak het nie, hoop ons dat teen die 15e Mei, meeste geskrap is sodat ons troue kan hou. Dit is nou Eldi en Johan s'n. Hulle het besluit op 'n plaastroue bo in Elandsrivier in "Mount Ingwe" se skuur met die seremonie in die NG Kerk geboutjie op "Rose Cottage". Omdat niemand weet of die volgende golf dan op pad is, of al weer oor ons is nie, word beplan vir 'n klein groepie gaste. Een vir elke kilometer van die 50+ km grondpad tot daar. Die plek se ligging bring sy eie logistieke uitdagings, maar aan die ander kant maak dit die troue besonders. Die detail is reeds uitgewerk, die blomme kom uit die berg uit, die dekor van 'n plaaswerf of twee af, die kos van 'n spit af, die roomys van die winkel af en die liggies uit die dorp uit. Daar wag baie werk, die kerkie moet 'n nuwe laag verf kry, die stoor moet afgestof en ingerig word, die blomme moet gepluk en aangery word, so ook die hout vir die vure en sal ons die klippe uit die pad uit moet rol vir die gaste wat met motors kom. Maar dit klink vir ons net alles beter as 'n instap troue by een van die plekke met die Franse name. Dans wil hulle dans tot die eerste hoenders opstaan en klink my die Vrydagaand wil Johan konsert hou rondom die kampvuur. Die troue is 'n geloofsaak en glo ons dit gaan alles in plek val. Baie dankie aan almal wat reeds gehelp het.

Huppelkind het al die middel van Januarie begin gereedmaak vir die jaar en is die kinders in Sugnét se klas al baie beter aangepas na drie weke van speelskool. Klasse word steeds afgewissel tussen twee groepe van 10 kinders elk. Dit het nadele maar ook voordele deurdat die kinders nou baie meer persoonlike aandag kry. Die grootste nadeel is dat fisiese kontak tussen hulle en die onderwysers beperk is en hulle mekaar nie meer in die stof mag rol nie. Ons hoop dinge normaliseer binnekort sodat hulle weer met vuil klere kan huis toe gaan! Dis nou die kinders.

Pieter vind weer sy voete daar in Stellenbosch en is hy op sy gelukkigste iewers in die berge bo Stellenbosch aan die hardloop, stap of swem alleen of saam met sy vriende. Baie keer as ons met hom praat is hy in die wolke. Hy ontwikkel e-handel platforms en doen teken- en ontwerp werk wanneer hy terug op aarde is. Hy, Dewald en nog twee ander vriende deel 'n huis met 'n hond, ook 'n Golden Retriever.  Ons was nog nie daar nie maar klink dit die huis is nie ver van die berg se skaduwee af nie. Dit gaan goed met Dewald se doktorale studies en is hy op koers om dit teen die einde van die jaar te voltooi. Ons hou vir hom, en hulle almal duime vas vir al die projekte.   

Sugnét se ma het op die eerste dag van die nuwe jaar haar intrek geneem in Huis Aandmymering hier in Uitenhage. Dit was 'n groot stap vir haar en 'n moeilike eenvir Sugnét. Selfs die hond moes bietjie aanpas. Sugnét se ma het gou haar voete gevind al is dit vreemd met al die beperkings op besoeke, en mag die inwoners ook natuurlik nie gaan rondloop nie. Intussen vorder ons om die plaas meer leefbaar en toeganklik te maak. As alles maar orals gegroei het soos dit daar groei. Jy kan nie jou rug draai nie! Ten spyte van die droogte is dit groen en die water loop aaneen. Voorwaar 'n seën. Die "Bush Chapel" is steeds in die pyplyn, letterlik en figuurlik.

Die Droogte
Dit is ou nuus wat so bietjie van die radar af verdwyn het teen die gestoei met die pandemie en die oorvloed reën in Gauteng. Van die dele in die land wat die swaarste ly onder die droogte is die Westelike dele van die Oos-Kaap, en veral die Karoo. Dit sluit plekke in soos die Gamtoosvallei, Langkloof en die Klein-Karoo. En Nelson Mandela Baai. Verder noord is dit veral Boesmanland wat verbrand. Daar vanaf Calvinia af noord tot by Pofadder en ook feitlik die hele Groot-Karoo. Dit is 'n taamlike groot en wyd uitgestrekte deel van die land waar, van die boere nou al deur hulle 7de jaar van droogte worstel.  Dit is moeilik om te glo as mens sien hoe baie van die land se damme nou oorvol is.

Die pandemie het 'n groot invloed gehad op gebedsaamtrekke en was biddae vir reën voor die pandemie 'n algemene verskynsel. Maar ook dit het verander. In die lig    hiervan beplan ons 'n week van gebed van 8 tot 14 Maart. Die doel daarvan is om gemeenskappe, gemeentes en individue uit te nooi om daardie week voor die Here te verootmoedig met die droogte op ons harte. Dit is nie 'n gebedswag nie maar 'n persoonlike uitnodiging tot verootmoediging. Riglyne is kort en bondig. Ons gaan al die landwye gebedsnetwerke uitnooi en motiveer om deel te neem, en "Global Prayer Watch" in Kaapstad gaan ook help. Meer inligting sal nader aan die tyd op sosiale media beskikbaar wees. Verwag weer 'n uitnodiging hier van ons kant af binnekort.

Bybels en Boeke 
Ons het hier voor kersfees ons laaste boektafel gehou daar in OK Grocer in Markstraat se foyer en was dit duidelik dat mense selfs toe al nie baie sakgeld gehad het nie. Daar is altyd goeie belangstelling nietemin. Ons het so paar weke terug ‘n klomp gebruikte Bybels en ander geestelike boeke gekry wat ons by ons eerste boektafel van dié jaar gratis beskikbaar gestel het. Meestal Afrikaans maar daar was ook Engels tussenin. Dit het gou verdwyn en sal ons dit voortaan inpak. Mense lees nog lyk dit my en hulle is verbaas dat hulle die boeke gratis kan kry. So as julle geestelike boeke en Bybels het waarvan julle ontslae wil raak, daar sal iemand wees wat dit weer gaan lees. Ons sal dit kom afhaal. Nuwe Bybels in al die tale en formate is by ons in voorraad teen kosprys behalwe die met die blommetjies op. Ons beplan 'n besoek met die boektafel aan die kleiner dorpies binnekort. Ons het reeds die "Bible School on Wheels". Ons noem hierdie maar die "Book Store on Wheels". Dalk kan ons dit kombineer met 'n Bybel-lees projek, soos ons dit in die ou dae gedoen het. Elkeen wat by die boektafel kom lees 'n paar verse uit 'n Bybelboek of Psalms uit. Volgende keer gaan ons aan en dan kyk ons waar ons eindig die einde van die jaar. Die Here praat altyd deur Sy Woord, en hy verander dalk net iemand se lewe op daardie oomblik!

Pandemie en Pampoene
Baie dinge het verander tydens die pandemie en het persoonlike besoeke, vergaderings en byeenkomste plek gemaak vir Zoom. So moes ook ons daarby aanpas. Dit is nie dieselfde nie want jy drink heeltyd jou eie koffie, maar dit is so 'n buigbare platform met soveel voordele dat ek vermoed dit gaan 'n permanente plek kry op baie pligtestate. So is ek en Daniel van Jerigo Mure besig om deur die Oos-, en later die Noord-kaap te Zoom om seker te maak almal is nog daar waar ons hulle laas gesien het, 'n jaar en langer terug. Die pandemie het baie geestelike leiers se spoed gebreek en kan ons weer mense moed inpraat en die visie van gebed vir herlewing vir die land op die manier lewend hou. Ander het weer soveel spoed opgetel dat ons hoop hulle kan so aanhou. Hierdie week is die eerste van die 7 weke van gebed wat bekend staan as "7 Dae op die Muur", 'n inisiatief waarmee julle bekend is. Meer as tagtig landwye netwerke en groepe ondersteun hierdie inisiatief tans, wat baie bemoedigend is. Die tema hierdie week is, "Sweef Soos 'n  Arend" of in Engels, "Rise Above the Storm". Oudergewoonte is daar daaglikse riglyne. As iemand dit wil ontvang kan ons elke dag se riglyne  aanstuur, of die hele week se riglyne in 'n pdf dokument. Jy hoef nie op 'n groep te wees om dit daagliks te ontvang nie. Laat gerus weet.

Ons het in die vorige nuusbriewe verwys na die toenemende fisiese nood onder mense wat deur die pandemie vererger is. Almal is bekend daarmee en word min van ons nie daardeur geraak nie. Dit is 'n bron van frustrasie, maar ook 'n wonderlike geleentheid om mense in nood te help. So is ons heeltyd op soek na enige iets wat ons kan uitdeel, en kom dit altyd op die regte tyd. Ons het verlede week weer "care packages" gekry vanaf die "Salvation Army" in PE vir die moeders van pasgebore babas wat met Elria se hulp in Provinsiale Hospitaal in Uitenhage versprei word. Daar is ook 'n besending op pad Addo toe saam met Elroy en kry ons later die week nog vir van die ander gemeenskaps-klinieke waarmee Mzo ons gaan help. Dit is nie veel om vir 'n moeder te geen nie maar is dit dikwels die gebaar wat daarmee saamgaan wat die verskil in iemand se lewe maak, en nuwe verhoudings wat gebou word. Vir ons is dit die kerk in aksie en lekker as ander deel daarin.

So kom ons by die pampoen storie uit. Een van die boere in Elandsrivier het kort na die eerste reën laat September net oor die 30 000 pampoen plantjies geplant wat toe hier van Januarie af begin ryp word het. Vra maar vir André hoe lyk dertig duisend pampoene op 'n land. Kersfees vir 'n haas, 'n ystervark en 'n bosvark! So kom daar twee bitter warm dae vroeg in Februarie en word die pampoene wat nog op die land was uit die mark uit geskroei. Ons het toe al op daardie stadium begin aanry aan dié wat die hase en ystervarke bygekom het. Die uitnodiging is via al die netwerke versprei en was daar spoedig gereelde besoekers met hulle bakkies. Self 'n klomp Koreane van 'n kerk in PE. Die eerste prys gaan egter aan Frank wat met sy 2-ton Hunday bakke 10 keer die 150km "roundtrip" aangepak het om pampoene te gaan haal en uit te deel aan honger mense. Wel gedaan Frank! Dankie ook    André vir jou ruim hart. As al die masjienerie van die Kerk begin draai is dit 'n magtige organisasie wat die land kan verander. Ons glo ons gaan nog baie, en al hoe meer daarvan sien.

Baie dankie vir almal se hulp en ondersteuning die afgelope paar maande. Ons waardeer dit. Julle maak 'n verskil in ons lewens sodat ons dit in ander se lewens kan maak.

Pierre en Sugnét


Besoek ons Afrikaanse nuusbrief argiewe onderaan hierdie bladsy.