Christian Artwork
Follow us:

 
 

Sendingwerk te Kokstad V.G.K. Gemeente

Hierdie bladsy is geskep om te help om die werk van die V.G.K. Gemeente op Kokstad te bemark. GAP Ministries, die eienaar van hierdie webwerf is nie betrokke by die werk van die Gemeente in Kokstad nie alhoewel ons ons volle ondersteuning daaraan gee, en graag wil sien dat ander belangstellendes dieselfde doen.
 Agtergrond 
"My Pa was sy lewe lank sendeling in Transkei en ek het grootgeword op `n sendingstasie. Van jongs af het ek geweet dat die Here my ook roep om vir Hom te werk in Transkei. Nadat ek my studies op Stellenbosch voltooi het, is ek in 1983 na Isilimela sendingstasie, aan die Wildekus, beroep en het daar vir 10 jaar gewerk. In 1993 is ons na Kokstad beroep, waar ons vandag nog werk en weet dat dit is waar die Here ons wil gebruik. Ons gemeente bestaan uit ongeveer 500 lidmate. Ons werk in `n baie groot gebied. Elke gemeente in Transkei bestaan uit `n hoofgemeente en buiteposte in die omgewing. Ons hoofgemeente is in Bhongweni, Kokstad se swartdorp geleë, en dan het ons nog sewe buiteposte in die omgewing, tot so 40km ver. Op die oomblik is ek die enigste leraar in ons ring en is dus konsulent by 7 gemeentes. Die verste punt waar ek werk is 160km van ons af.
 
Deel van ons werk is  gewone gemeentebediening met alles wat daarmee saam gaan. Ons is egter ook betrokke met sendingwerk. Ongeveer 40% van Transkei se 5 miljoen mense is nog totale heidene. Hier is dus nog `n baie groot taak wat verrig moet word. Vanaf ons gemeentes en buiteposte bring ons die lig aan so baie wat nog in duisternis leef. Die Here seën die werk en daar is vrug op ons arbeid. Deur die jare kom mense tot bekering, word ons lidmate meer, word nuwe buiteposte gestig en kerke gebou. Hoewel die gewone Transkei mense in groot armoede leef, is hul baie vriendelike mense en ontvang ons altyd met liefde en respek.Daar is werklik nog `n groot geleentheid om die Evangelie aan die mense te bring.
Veertien jaar gelede het ek, om een voorbeeld van vrug op die werk aan u te noem, by Aloekop buitepos dienste begin hou. Ons het kerk gehou in `n klein modderhutjie. Soms het `n paar mense die dienste bygewoon, party Sondae was daar niemand. Vir jare het daar nie veel gebeur nie en soms wou ek moed opgee. In 2004 het die Here die buitepos aangeraak. Baie mense het tot bekering gekom. Die modderhut was te klein en dienste is `n n ou skuur begin hou. Die gemeente het steeds uitgebrei en verlede jaar kon ons `n kerk bou op Aloekop. Toe ek 14 jaar gelede daar in `n eenvoudige hutjie begin dienste hou het, kon ek nooit dink dat daar eendag `n sterk gemeente met `n eie kerkgebou op Aloekop sou wees nie."
 
 
Ds. Christo Wooding saam met die Kerkraad van Kokstad V.G.K.

Hoe kan u gemeente betrokke raak: 
 Finansieel : Ons doen ons werk in Transkei in die geloof. Ons is destyds in diens van die Oos-Kaap sinode na Transkei gestuur. Ongeveer 10 jaar gelede kon die sinode ons nie meer dra nie. `n Paar van ons het besluit om te bly en in die geloof verder te werk. Op `n wonderlike wyse dra die Here ons jaar na jaar. Dikwels het dit al gelyk of die fondse opdroog en ons nie sou kon aangaan met die werk nie. Tog het die Here keer op keer voorsien en vertrou ons Hom ook vir die toekoms. Op die oomblik is dit ons grootste behoefte en indien u gelei word om dalk by die salarisfonds betrokke te raak, sal ons baie dankbaar wees.

  1. Daar is ook ander projekte waarby gemeentes finansieel betrokke kan raak, soos die bou van nuwe kerkies, herstelwerk aan bestaande kerkies, ons kleuterskole, kosprojekte of lekepredikers wat ons oplei en aanstel.

  2. U kan ons besoek. Gemeentes is welkom om ons te besoek met uitreike of dalk die bou van `n kerkie op `n buitepos. So kan u direk by die werk betrokke raak en ons hande hier kom vat.

  3. Deur vir ons te bid, `n brief te skryf of `n e-pos te rig. Dit is wonderlik om te weet dat ons nie alleen staan in die stryd vir die Evangelie in Transkei nie!

Baie dankie vir U belangstelling
Vriendelike Groete
Christo Wooding


 Agtergrond oor Rietvlei Sendingstasie 

Nuus van 5 Mei 2017

Liewe Vriende,
Daar is twee gebeure in die swartmense se kultuur en kerk wat mens ten minste een keer in jou lewe moet belewe, en dit is Paasfees en `n begrafnis. Paasfees 2017 was weereens `n baie geseënde en grootse geleentheid in ons gemeentes.
By Kokstad, soos ook in al die ander gemeentes, is weke voor die tyd begin met die voorbereidings vir die Pasika. Kerkerwe is skoongemaak en heinings herstel. Die kerke is binne en buite weer spierwit geverf. By Kokstad het die vroue nuwe teëls op die vloere gesit. Kosgelde word op al die buiteposte ingesamel. Ons gemeente het R20000.00 ingesamel vir die herstelwerk en kos. Ten spyte van die eerste winterkoue op Kokstad,  het baie mense die dienste bygewoon. En elke oomblik daarvan ten volle geniet en meegeleef. Dit is werklik nie vir hierdie mense `n straf om kerk toe te gaan nie. Vrydagoggend is nagmaal gehou, kinders gedoop en nuwe lidmate voorgestel. Die middag het sewe predikers oor die sewe kruiswoorde gepreek – met elke kruiswoord vat `n vars prediker weer voor! Teen die aand  het Deleste `n konferensie met haar vroue gehad, en daarna is begin met die deurnag  opwekkingsdiens. ( sien aangehegte  foto van ons lidmate se meelewing tydens die dienste).

Die Saterdag is ons na Rietvlei vir die Pasika. Rietvlei is een van die oudste en grootste gemeentes in Transkei, maar ongelukkig ook vakant. Ons het egter  waardering vir `n kerkraad wat die gemeente op `n baie bekwame manier bymekaar hou en lei. Deleste moesvir `n paar nuwe vroue lidmate hul swart kerkdrag (letterlik)  aantrek,  en ekself vir ses nuwe mans lidmate. Daarmee word hul lede van die verenigings vir manne en vroue. Groot klem word gelê op die korrekte drag,  en die klere word met sorg en trots gedra vir die res van hul lewens. By Rietvlei is dit nog die gebruik dat die leraar self die nagmaal aan die kerkraad moet bedien. Ek moes die dag ook 38 kinders doop. ( sien d foto van die 6 nuwe mans by Rietvlei).

Die Sondag is ons na Lusikisiki vir Lusikisiki/Bambisana se Pasika. Teen die derde dag van die Paasnaweek was die kerk steeds stampvol en het ons `n baie geseënde dag saam met die gemeentes gehad. Daar was veral baie van die nuwe geslag jongmense in die kerk. Dit is jongmense wat as kindertjies grootgeword het in die Sondagskole en kategese klasse op Lusikisiki en Bambisana. Vandag is hul reg oor die land besig om te studeer by universiteite of het reeds goeie werke. Tog  het hul hul ouerhuise en kerk nie vergeet nie, en sien ons hul jaar na jaar tydens Pasika in die dienste. Die Sondagskool se kinders het dié dag vir ons `n baie mooi opvoering gedoen oor die Paasgebeure. Ev.Henry Hlutshwa het die Paasfees vir ons gehou by Mount Ayliff en Sipetu. Ev. Fudukile Menze het weer by Maluti die Pasika behartig. Hulle getuig ook van groot seën in hierdie gemeentes  tydens die naweek.


Baie dankie vir u voorbidding  en ondersteuning  tydens die Paastyd. Ons het werklik ervaar hoe die Here ons deur die dae gedra en bewaar het. En weereens  gesien hoe Christus self Sy kerk instand hou en uitbrei, self onder baie moeilike omstandighede. Oppad terug vanaf Lusikisiki na Kokstad, het ons `n vinnige draai gery op `n afgeleë grondpad  langs die Ntafufurivier aan die pragtige Wildekus.  Die aangehegte foto is spesiaal  vir almal van julle wat al deur die jare saam met ons langs die ongerepte kus  4x4 gery het. Ons het aan jul almal gedink! Vriendelike groete.

Nuus van 16 Februarie 2017

Liewe Vriende,

Iemand het eendag gesê;  Ons sien ons Hemelse Vader se voetspore op aarde in die klein dade van gehoorsaamheid deur Sy volgelinge.  Jy weet nooit wat die gevolge kan wees van die saadjie wat jy saai nie, die liefdesdaad wat jy verrig nie, of die vriendelike woord wat jy spreek nie.  In Sy Koninkryk gebruik God ons swakste pogings, dikwels op maniere wat ons nooit sou kon voorsien het nie. Op 3 Desember 2016 het ons afskeid  geneem op Lusikisiki van Nomthanthazo Gongxeka, wat vir 40 jaar as geestelike werkster in ons kerk gewerk het.  Die laaste 38 jaar was  te Lusikisiki/Bambisana.  Jiks  ( afgelei van die Xhosa woord vir geestelike werkster, nojikeleza) was nooit getroud nie, maar God het haar, in haar eie woorde, 'n groot geestelike familie gegee om te versorg. Deur die jare is duisende kinders en jongmense se lewens gevorm deur haar werk in die Sondagskole en jongmensvereniging. Vir al die jare wat Lusikisiki/Bambisana vakant was, was sy die gemeentes se “dominee” en geestelike versorgster.  Sy was die geestelike moeder vir die jeugspanne uit Amerika en Stellenberg wat wonderlike werk gedoen het op Bambisana en Lusikisiki, en dit steeds doen.  Baie mense, oud en jonk, is deur die jare na Jesus gelei deur Nomthandazo.

Die afskeid was `n groot geleentheid gereël deur die gemeente in die plaaslike onderwyskollege se saal.  Die program het die hele, warm Desember dag geduur en groot waardering is deur die baie sprekers uitgespreek vir haar lewe en werk.  Pragtige geskenke is aan haar gegee.  Ons was baie dankbaar oor die besoekers wat die afskeid kon bywoon -  Mara Nel wat self as geestelike werkster op Bambisana gwerk het vanaf 1969 tot 1979.  En Ds Ben en Elsa Marais wat vanaf 1972 tot 1974 op Bambisana gewerk het.  Die gemeentelede was so bly om die ou sendelinge weer te sien.  Ds.  Why Duvenage van Stellenberg en Gerrit en Mignon Duvenage, die leier van die jeugspanne, was ook daar.  Ons is baie dankbaar teenoor Stellenberg vir hul jarelange steun van die werk by Lusikisiki/Bambisana, en van Nomthandazo. Hulle is sedert 2005 by Bambisana betrokke.  Die Sondag het ons almal saam in Lusikisiki se kerk nagmaal gehou, en finaal afskeid geneem. (sien die aangehegte foto`s van die afskeid).

Jiks het in `n Christelike huis naby Cala grootgeword.  Na skool het sy `n plaaslike onderwyskollege gaan bywoon.  Sy vertel dat toe sy 21 jaar oud was, die duiwel haar lewe wou verwoes. Sy het in ernstige depressie verval en wou haar eie lewe neem.  Haar ouers stuur haar toe om by `n Tante 200km ver, naby Umtata, te gaan bly. Daar kruis haar pad met die van  Ds. Haas Burger.  Ek onthou nog as `n kind hoe Oom Haas, met sy ou Kombi vol Christenstudente  van die kerk se onderwyskollege  op Cicira, die stofpaaie rondom Umtata deurkruis het op huisbesoek en evangelisasie.  So kom hy by die tante se huis uit en kon hulle vir Jiks na Jesus lei. Oom Haas het dadelik haar potensiaal raak gesien en gereël dat sy die teologiese skool op Decoligny bywoon. Daar is sy vanaf 1974 as nojikeleza opgelei. Na haar opleiding in 1976, land sy weer werkloos by haar ouerhuis naby Cala.  Ds. Willie Stadler, toe sendeling op Cala, verneem van `n werklose geestelike werkster in die omgewing, maar het geen kontakbesonderhede nie.  Hy klim toe in sy ou Land Rover met `n luidspreker op die dak, roepende na Nomthandazo, terwyl hy deur die strate ry.  Sy hoor hom roep terwyl hy “toevallig” by haar huis verby ry, en so word sy as geestelike werkster op Cala aangestel.  Dit was die begin van `n vrugbare bediening van 40 jaar op Cala en Lusikisiki.

Verhale soos hierdie inspireer ons opnuut en gee aan ons weer nuwe moed, krag en geloof om in 2017 met ons werk in die Transkei voort te gaan.  En hoewel ons nou al baie lus is vir aftree en  `n rustige lewe by die see, onthou ons Jiks se laaste woorde aan ons: “ Jul 40 jaar is nog nie vol nie, daar is nog werk wat julle vir die Here moet doen in Transkei!” .  En ons besef  dat God genadiglik self ons swakste pogings kragdadig in sy Koninkryk kan gebruik.

In Maart verwag ons besoek van die leraars van die Ring van Uitenhage. Uitenhage se gemeentes was die eerste gemeentes wat ons 23 jaar gelede begin ondersteun het.  Die Ring van Uitenhage hanteer ook die Kokstad Sendingfonds.  Deur die jare het kosbare vrienskappe ontstaan en ons sien uit na die besoek.

Paasfees 2017 kom nader en soos u weet is dit `n baie groot geleentheid in ons kerk. Ons begin reeds die 9de April op “Palmsondag” met ons dienste.  Tydens die paasnaweek moet die sakramente  bedien word in al 7 gemeentes waar ek konsulent is. Duisende  (waarskynlik miljoene) mense woon tydens die paastyd dienste by in die verskillende kerke in ons land.  Dit is `n groot geleentheid om die Evangelie van Jesus Christus te verkondig.  Dit kan so `n groot verandering bring in ons land. Bid vanjaar vir besondere  seën op hierdie dienste. Baie dankie weereens vir u ondersteuning, gebede en liefde.  Mag u elkeen ryklik geseën word in 2017.
Vriendelike groete.
Christo en Deleste Wooding

 

Nuus van 10 Oktober 2016.

Liewe Vriende,

Aan die einde van nog `n jaar op Kokstad is ons harte vol dankbaarheid teenoor die Here, en ook teenoor ons ondersteuners en medestryders in die Koninkryk van God.
Ons is werklik dankbaar  dat ons steeds die voorreg het om vir die Here te kan werk in Transkei. Ons is dankbaar vir seën op die werk.  Dit bly wonderlik om te  ervaar hoe God self sy Kerk in stand hou. En te sien hoe die Evangelie steeds lewens aanraak en vir ewig verander. Ons is dankbaar vir gesondheid om nog te kan werk,  en vir die Here se bewaring ,  versorging en genade  deur al die jare in Transkei .

Sonder u almal se ondersteuning, vriendskap en gebede sou ons nie hier kon werk nie. Sendingwerk is dikwels moeilike en  eensame werk. Die laaste jare het ons kollegas, met wie ons  baie jare saam gewerk het in Transkei, almal afgetree of vertrek.  Binne ons ring is ons nou die enigste leraarspaar.  Ons is dankbaar teenoor gemeentes, leraars, sendingkommissies en lidmate wat getrou by ons staan. En ons ook finansiëel  versorg, al kry almal maar swaar in hierdie tye.  Soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het toe hy moeg geraak het, hou u ons arms omhoog sodat ons nie moeg raak nie.
Daar kom tye dat mens wonder of al die sendingwerk in Transkei die moeite werd was, en is. So `n maand gelede sit ons in die ring se jeugkonferensie hier op Kokstad. En ons kyk na die nuwe geslag jeugleiers in ons ring. Oulike, geleerde jongmense, met hul slimfone en skootrekenaars, wat die Here dien met oorgawe en lief is vir hul kerk. Hulle kom van Bambisana, Lusikisiki, Mount Ayliff, Rietvlei en Kokstad.  En ek besef dat hierdie al die 4de en 5de geslag gelowiges is,  in die jong kerk in Transkei.  Dit is reeds dekades sedert die ou sendelinge die Evangelie in die gemeentes kom plant het. Die meeste van die gemeentes is al vir baie jare vakant. En tog word die Evangelie van geslag na geslag oorgedra.

Die afgelope naweek het ons `n baie geseënde vroue konferensie op Kokstad gehad. Daar was baie vroue van al ons buiteposte. Hulle het meer as R10000.00 ingesamel -  meestal arm mense  wat hul offergawes met vreugde  bring vir die Here. Die Sondag het hulle `n optog deur Kokstad se strate gehou  om aan die wêreld te wys hul dien die Here - trots op hul kleredrag, hul kerk en hul vrouevereniging. (Sien aangehegte foto`s).
Op 3 Desember neem ons afskeid op Lusikisiki van Nomthandazo Gongxeka wat vir 38 jaar as geestelike werkster daar gewerk het. Sendelinge het gekom en gegaan op Lusikisiki en Bambisana,  maar Nomthandazo het getrou bly werk.  Sy het wonderlike werk onder die kinders en jongmense gedoen, en was maar eintlik die “dominee” in die vakante gemeentes. Sy het baie verlore mense na Jesus gelei.  Sy was ook die spilpunt waarom die onlangse uitreike van Stellenberg en die Amerikaners op Bambisana en Lusikisiki gedraai het. Lees gerus Nomthandazo se aangehegte getuienis, en die rol wat Ds. Haas Burger en sy vrou,  en Ds.Willie Stadler-hulle in haar lewe gespeel het. Ons weet nooit hoe die Here onsself en ons  swakste  pogings in ander se lewens, en in diens van Sy Koninkryk,  wil gebruik nie.(sien haar aangehegte foto).

Ons bid gereeld, “laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat u wil op die aarde geskied”. Dit is ons ervaring dat ons as kerk en gelowiges steeds vandag `n groot geleentheid  het in ons land om te bou aan die Koninkryk van God. Ons doen dit deur die Evangelie van genade en liefde aan verlorenes te bring. En deur ons liefdesdade in hierdie wêreld.  Dit is ons oortuiging dat ons as kerk en gelowiges  hierdie geleentheid moet aangryp, tot eer van God en uitbreiding van Sy Koninkryk.
Ons bid u elkeen `n baie lekker vakansie toe, en `n gesëende Kerstyd en nuwejaar.

Vriendelike groete.
Christo en Delesté Wooding.

 
Nuus van 26 Julie 2016.‚Äč

Die Kutshwa familie en Waterloo buitepos.

Met my koms na Kokstad in 1993 was Waterloo een van die eerste buiteposte wat ek besoek het. Die buitepos is gelee op `n plaas,  ongeveer 20km buite Kokstad. 

Deur my loopbaan in die kerk is my lewe verryk en diep aangeraak deur `n paar ouderinge in die VGK.   Op Isilimela was daar tata Kaizana Ndamase, op Pahlakazi buitepos tata Vava, by Lusikisiki tata Phillip Noxaka en by Rietvlei tata Ndlovana.  By Waterloo het ek vir tata Kutshwa leer ken en lank saam met hom gewerk. Hy het op die plaas gewerk en daar gebly in sy eenvoudige modderhuisie. Hy was altyd pynlik netjies op homself, sy familie en huis. Sy kinders het hy met liefde en streng dissipline in die Here grootgemaak. Hy het `n pragtige tuin gehad en dikwels het ek hom en sy vrou aangetref waar hul skoffel  tussen die groente. Sy eie erf, asook die kerkerf, was  goed omhein met pragtige blombeddings en altyd  netjies skoongevee.  Hy was baie lief vir die Here en vir sy kerk. In liefde het hy oor sy gemeentetjie op Waterloo gewaak en sou hy alles los om na verlore skape te soek.  Getrou het hy Sondae in die ou modderkerkie vir die paar lidmate kerk gehou. Elke Sondag was daar vars blomme uit sy tuin in die kerk. (Sien aangehegte foto v gemeente voor modderkerkie).

Twintig jaar gelede het ons saam met Stellenberg `n nuwe kerkie op Waterloo gebou. Ek onthou dat dit baie gereen het tydens die bouwerk en dat ons gesukkel het om die projek te voltooi. Die voorlaaste aand het ons ernstig saam gebid vir mooi weer. Die volgende oggend het die son geskyn op die bouperseel terwyl dit reg rondom ons op die berge gereen het. Die kerk is voltooi en tata Kutshwa was tot sy dood baie trots op sy pragtige kerkie. ( sien foto v nuwe kerkie met mense wat buite staan).

Na sy dood het sy kinders en kleinkinders in sy voetspore gevolg en dien hul steeds vandag die Here met oorgawe. Malibongwe Kutshwa is nou ons ouderling op Waterloo en `n bekwame leier. Hyself het `n B.Com graad. Baie van Tata Kutswa se ander kinders het ook ver gevorder in die lewe en het vandag goeie werke.
Die “nuwe kerkie’ op Waterloo is ongelukkig deur die jare beskadig deur storms en het begin verval. Sonder my medewete het die Kutshwa kinders geld bymekaar gemaak en die kerkie weer herbou - `n nuwe dak is opgesit, die mure herstel, die vloer geteel, `n stoep aangebou , die kerkerf is nuut omhein en `n blomtuin aangeplant. En toe ons verlede maand weer kerkhou op Waterloo, was daar  vars blomme in die kerk. (sien foto`s van die herstelde kerk binne en buite).

In 2004 het Deleste en Malibongwe `n kleuterskooltjie in die kerkie op Waterloo begin. Die skooltjie het gegroei deur die jare en Malibongwe het toe met `n regeringstoelaag `n nuwe skooltjie gebou .  `n Sopkombuis en landbouprojek is ook bedryf op die nuwe perseel. Vanjaar het die skooltjie op Waterloo `n R3.5 miljoen skenking van die Lotto ontvang. Die regering gaan met die geld `n nuwe , toegeruste kleuterskool vir 110 kinders bou op Waterloo. Dit is een van slegs 9 sulke skole wat deur die hele KZN gebou gaan word.
Hoe dankbaar is mens nie vir dit alles nie,  en hoe bly sou ou tata Kutshwa nie vandag hieroor gewees het nie!
Baie dankie weereens vir u gebede en ondersteuning. Daar sonder sou ons nie kon voortgaan met ons werk op Kokstad nie.
Christo en Deleste Wooding.
Kokstad VGK
Waterloo  Buitepos

Nuus van 28 Maart 2016

Liewe Vriende,
Ons sit by die begrafnis van een van ons getroue ou lidmate, Mama Mirriam Nozizwe July. Die begrafnisbrief noem dat sy op 1 Augustus 1931 by Qumbu gebore is.  Sy het op Kokstad skool gegaan en is in Umtata opgelei as verpleegster.   Vir jare het sy op Kokstad gewerk tot met haar aftrede in 1994. Sy was baie lief vir die Here en tot haar dood `n aktiewe lidmaat van ons gemeente.  Mev. Base, een van die leraarsvroue met wie Mama July vir jare saam op ons ring se vrouekomitee gedien het, noem dat Mama July nie `n “kruiwalidmaat” was nie.   Die meeste lidmate, sê sy, is soos `n kruiwa.  Jy moet hulle gedurig optel en stoot om êrens te kom! Mama July was altyd bereid om te help en te werk in die kerk. Met my koms na Kokstad in 1993 was daar `n paar getroue lidmate wat my hande gevat het en saam met my gewerk het – Mama`s July, Joja, Cekiso, Luthuli en Silevu.  Tata`s Silevu, Kutshwa en Mcibo.  Formidabele geloofshelde by wie ek baie geleer het. Gereeld het hul saam met my gery na Maluti, Sipetu, Bambisana, Rietvlei en al die ander gemeentes.  Van hul almal is dit nog net die 94 jarige Tata Silevu wat nog lewe.  Gelukkig is dit nie die einde van die verhaal nie.  Daar is vandag `n nuwe geslag bekwame Christen jongmense wat getrou saam met my werk – Malibongwe, Msa, Zama, Nomso, Vusumzi en vele ander.

Dit was vanjaar ons 33ste Pasika(Paasfees) in Transkei.  Soos gewoonlik het ek voor die Pasika maar gemurmureer, soos die ou Israeliete in die woestyn, toe ek gedink het aan al die dienste en die lang ure op harde kerkbankies wat voorlê.  En soos altyd staan ek beskaamd na die naweek.  Dit was `n baie geseënde Pasika in al die gemeentes van ons ring – selfs die wat al jare vakant is.  Reeds vanaf die Donderdagmiddag het lidmate van die verste buiteposte by die verskillende gemeentes opgedaag.  Eers die Sondagmiddag is hul weer huistoe.  Almal getuig van oorvol kerke en die oorgawe waarmee die Here gedien is, letterlik dag en nag.  En dit is eenvoudig net so dat wanneer `n gemeente  saam tyd voor die Here deurbring in Sy teenwoordigheid, daar dinge begin loskom en gebeur wat wonderlik is.  Dat mens werklik die werking van die Heilige Gees begin ervaar in die lewens van lidmate, oud en jonk.

By Kokstad het ons lidmate ons kerk binne weer geverf en pragtig versier vir die Pasika.  Heerlike kos is aangekoop en voorberei vir al die etes.  Vrydag het ons nagmaal gehou en daar is lank gepreek, deur 7 predikers, oor die 7 kruiswoorde.  `n Hoogtepunt was die 19 nuwe kerkraadslede wat voorgestel is.  Baie van hulle jongmense wat die laaste paar jaar deur die leierskapontwikkelings programme van Jam op Bambisana gekom het.  My gemeente het vroeër vanjaar besluit dat hul hierdie laaste paar jare van ons bediening, meer betrokke wil raak by die gemeentewerk en bestuur. En hulle voeg werklik nou daad by woord. (Sien foto van ons Sondagskoolkinders met hul kerse tydens die diens)
Na die diens het my gemeente my verras met `n verjaarsdagpartytjie.  Lank voor die tyd het hulle en Delesté agter my rug begin beplan hieraan.  `n Pragtige koek en duur geskenke  is aan my gegee (sien foto – hulle weet ookal teen hierdie tyd dat ek in my hart eintlik `n visserman van regte visse is). Twee skape is geslag en `n regte boerebraaivleis gehou.  Dankbaarheid is uitgespreek oor soveel jare se werk op Kokstad.  Blydskap oor my gesondheid wat soveel verbeter het.  En die wens is uitgespreek dat hul “Tata” nog lank met hulle sal wees.  Onsself is oorweldig deur soveel liefde en erkenning.   En ons is opnuut gemotiveer om voort te gaan met ons werk by Kokstad en in Transkei.

Die Sondag het ons op Rietvlei gaan Pasika hou.  Dit bly vir my besonders om op Rietvlei te kom omdat my ouers self ook vanaf 1952 daar gewerk het.   Na Ds Kibito se vertrek in Desember 2015, is dit nou die derde keer dat ek daar konsulent is.  Rietvlei is een van die grootste gemeentes in Transkei en daar was dan ook baie mense tydens die diens.  Onder andere moes ek 29 kinders doop en 10 nuwe lidmate aanneem.  Na die vertrek van nog `n leraar, en menslik gesproke sonder veel vooruitsigte op `n volgende leraar, kon mens verstaan dat die gemeente bang en onseker oor die toekoms voel.  Saam het ons die opstandingsoggend uit Matt 28 gelees en kon ek aan hulle se: “Julle moet nie bang wees nie, Jesus het uit die dood opgestaan.  Hy lewe en is ook vandag hier by julle op Rietvlei. En Hy sal altyd met julle wees”.
Die Pasika het ook by Lusikisiki/Bambisana goed verloop. Gerhard en Mignon Duvenage van Jam, wat vroeër daar gewerk het, en Ev. Henry Hlutshwa het die dienste gehou.  Gerhard het ook die nuwe werkers van Jam op Bambisana, wat in Wally en Lianca se plek kom, aan die gemeentes voorgestel.  Hulle is `n jong egpaar, Lumbo en Nomtu Mabunda en hul kinders.  Hierdie was ook Jiks (Nomthandazo), wat vir jare getrou op Lusikisiki/Bambisana gewerk het as geestelike werkster, se laaste Pasika.  Sy tree in Augustus af.
Weereens `n groot dankie vir elkeen van u se getroue ondersteuning.  Sonder u gebede, vriendskap en finansiele ondersteuning sou ons werklik nie tot by hierdie Pasika gekom het nie.  Indien God dit so beskik, lê daar nog so 5 Pasika`s vir ons voor in Transkei.  `n Wonderlike geleentheid!  Maar ons gaan veral in hierdie laaste jare u gebede en ondersteuning baie nodig hê.
Vriendelike groete.
Christo en Delesté Wooding

 
Nuus van 26 Februarie 2016
 
Liewe Vriende,

 
Ons was toe by al die dokters in Pietermaritzburg gewees. Hulle het my vir `n paar dae in die hospitaal gehad en deeglik ondersoek. Dit lyk gelukkig nou of die eerste diagnose nie korrek was nie en dit nie beroertes was nie. Hulle is besig met nuwe behandeling en toetse. Dit lyk of  dit dalk Meniere sindroom is wat my so sleg aantas. Die vooruitsigte lyk darem nou baie beter en ek glo die dokters gaan my kop weer regkry – dit is natuurlik nou as jou kop weer kan regkom na so baie jare in die sending!! Die afgelope paar maande was nie `n maklike tyd vir ons nie, maar nou skyn die son weer helderder en waardeer ons die lewe  opnuut. Baie dankie vir u ondersteuning en belangstelling in hierdie tyd. Ons weet dat daar gereeld vir ons gebid is op baie plekke, en waardeer dit opreg. Alle eer en dank aan God vir Sy groot genade oor ons. 

Ons is ook wonderlik ondersteun deur ons eie gemeentes en medewerkers. Op `n kerkraads-vergadering 2 weke gelede het my kerkraad opnuut onderneem om my meer te ondersteun. Nuwe diakens is aangewys om  offergawes te kollekteer sodat dominee nie so moet sukkel met die fondse nie. Die hele Pasika program is uitgewerk en uitgestuur na d buiteposte deur ons skriba, Malibongwe Kutshwa.  Daar moet beter na ons dominee gekyk word sodat hy nog lank hier kan werk, was d algemene gevoel. Henry Hlutshwa gaan my tydens Paasfees help met d dienste op Lusikisiki en Bambisana. Fudukile Menze gaan van die dienste op Mount Ayliff en Rietvlei hou. Die Paasvakansie gaan `n besige tyd wees op Bambisana. Daar gaan uitreike wees vanaf Stellenberg en Jam. Daar kom ook `n groep Amerikaners wat die dak van die pastorie op Bambisana gaan vervang met `n nuwe dak. Ons bid steeds vir `n geskikte paartjie om Wally en Lianca op te volg op Bambisana. Intussen gaan die spanne daar voort met al die projekte, met steun van Gerhard Duvenage van JAM en al d ander groepe wat daar betrokke is.

 
Dit is baie droog op Kokstad en ons damme is leeg. Ons is gelukkig indien ons vroeg soggens vir `n paar uur water in ons krane het. Sommige dae is daar geen water nie. Ons lewe draai nou om water – vroeg opstaan, alle lee houers volmaak. Water aandra, warm maak op stoof, was in skottels of bosstort (Havenstort). Ons dorp is werklik in `n groot krisis. Bid asseblief saam vir reen.
Baie dankie weereens vir al u liefde en ondersteuning. Mag ons Hemelse Vader u elkeen ryklik seen.

Vriendelike groete.

Christo en Deleste Wooding.
Kokstad VGK



Kontakbesonderhede:
Huisnommer: 039-7272215
Selnommer: 0823391666
E-pos:
wooding@telkomsa.net

  
V.G.K. Kokstad Werksgebied en Buiteposte
 
   
  V.G.K. Kokstad Gemeente
 
 
Kruisgesante oorkant die Kei  - Saamgestel deur Hennie Pretorius
Die geskiedenis van sendingwerk in die Transkei is nou beskikbaar by Bybelmedia se eWinkel.
Bestel dit
hier

Home | About us | All Events | Prayer Initiatives | Giving | Sitemap | Contact us