Christian Artwork
Follow us:

 
Gamtoosvallei Uitreik Aksie 

Gamtoosvallei Uitreik Aksie is 'n netwerk van kerke, organisasies en individue wat die geestelike en maatskaplike transformasie van die inwoners van die Gamtoosvallei op die hart dra. GAP Ministries was betrokke by 'n gesamentlike uitreik aksie gedurende Julie 2015 en is sedertdien behulpsaam met die netwerking van kerk- en bedieningsleiers in die vallei, veral met die oog op die inisiëring van plaaslike en nasionale gebedsinisiatiewe. 

D
ie uitreik was die resultaat van ‘n groepie belanghebbendes wat betrokke was en steeds is by geestelike werk in die Gamtoosvallei, of wat ‘n hart het om te sien dat die werk wat reeds in die Vallei gedoen word uitbrei, en meer mense bereik. Hierdie volg ‘n kort oorsig oor die Gamtoosvallei. 

Agtergrond 
Geografie
Die Gamtoosrivier Vallei, Gamtoosvallei of soos meeste mense dit noem, die Gamtoos, strek van die Baviaans in die weste tot by die Gamtoosrivier Mond in die Suide. Dit sluit die dorpe Loerie, Hankey, Patensie en Thornhill in. Die Gamtoos is ongeveer 40 minute se ry van Port Elizabeth, 20 minute se ry van Jeffreysbaai en so 30 minute se ry van Uitenhage af. Daar is verskeie toegangsroetes na die streek ondermeer van Humansdorp, Jeffreysbaai en van die N2 snelweg af. Die Gamtoos kan ook bereik word via Steytlerville deur die Baviaanskloof. Die Gamtoos is bekend as die spens van die Oos-Kaap en die ekonomie van die streek draai grotendeels rondom kommersiële boerdery praktyke met die toerisme bedryf as ‘n sekondere werksverskaffer. Die streek is bekend vir sy uitvoere van prima sitrus produkte en dit was ook die oorspronklike rede waarom mense hulle hier kom vestig het. Die vrugbare grond, volop besproeingswater, matige winters en warm somers maak dit die ideale plek vir die verbouing van behalwe sitrus ook groentes en veral aartappels.
 
Demografie 
Die Gamtoos vorm deel van die Kouga Munisipaliteit wat ook Jeffreys Baai, Humansdorp, Cape St. Francis en Oesterbaai insluit. Dit word beraam dat daar in 2015 ongeveer 30 000 mense in Die Gamtoos woonagtig was. Dit behels ongeveer 6200 huishoudings. Hankey het die grootste inwonertal met sowat 18200 mense, Patensie met 4400 mense, Loerie met 3700 mense en Thornhill met 3500. 27% Van die inwoners is jonger as 15 jaar. Die bevolkingsgroeikoers in die streek is 3,2%. Slegs 24,5% van kinders wat skool voltooi het het ‘n matriek kwalifikasie met slegs 9,5% wat naskoolse opleiding het. Die werkloosheidsyfer in die ouderdomsgroep 15-34 jaar is 26,7%. Die werkloosheid syfer vir die streek is 21,5%. Die syfer is heelwat minder as die 44,4% vir die Oos-Kaap en ook minder as die 34,5% vir die Nelson Mandela Metropool. Die Kouga Munisipaliteit is ekonomies gewys die derde grootste munisipaliteit in die Oos-Kaap. Die grootste werkgewer is by verre die landbousektor wat werk bied aan hoofsaaklik ongeskoolde tot semi-geskoolde arbeid. Die werkloosheid syfer onder jongmense is opmerklik en ook die feit dat die meerderheid jongmense ongeskoold is.
 
Sosio Ekonomies 
Afgesien van werkloosheid is daar ‘n verskeidenheid sosiaal maatskaplike probleme teenwoordig. Alkohol- en dwelmmisbruik, tienerswangerskappe en misdaad is maar net ‘n paar hiervan. Veral vir jongmense is daar bitter min vooruitsigte in die streek. Geleenthede vir vaardigheids ontwikkelling is feitelik afwesig met geen tersiëre opleidingsinstansies wat hier gevestig is nie. Die Kouga Munisipaliteit het ook nog nie ‘n program vir die ontwikkeling van vaardighede vir die jeug nie. Veral ongeskoolde jongmense het daarom bitter min vooruitsigte anders as om die streek te verlaat, of om te wag totdat hulle in die landbou sektor in diens geneem kan word.

Fokus areas vir geestelike werk in die Vallei
Tydens die uitreik was daar gefokus op die onderstaande areas. Hierdie fokus areas is steeds 'n behoefte en kan die fokuspunte wees van enige toekomstige uitreikaksies.  
  • Gebed  
  • Kinderevangelisasie 
  • Evangelisasie aan volwassenes
  • Dissipelskap Opleiding
  • Werklooshied en Armoedeverligting
  • Bediening aan Plaaswerkers

Kerke en Kontak Persone
NG Kerk Gamtoosvallei (Kwagga) -  ngkgamtoos@lantic.net ​
NG Kerk Gamtoosvallei Oos - ​ngkgamoos@gamtoos.co.za
NG Kerk Loerie  

Victory Christian Church Patensie
Die Lighuis - Ramaphosa Woonbuurt Patensie- Dawid Booysen 0738385932

Pitkos uit die Gamtoos
Luister na die Ballade van Sokkel Stimkana:
My vrou maak vuur en knie die deeg
al is die koskas byna leeg
Maar in die hoek staan ‘n emmer meel
Net roosterkoek vanaand kan my nie skeel...
Lees verder hier 

Home | About us | All Events | Prayer Initiatives | Giving | Sitemap | Contact us